Meer en meer gebeur dit dat iemand ‘n rekening (gewoonlik in PDF-formaat) ontvang van ‘n verskaffer of diensleweraar, met dié se bankrekening besonderhede daarop, en dit dan betaal net om agter te kom dat die epos waaraan die faktuur geheg was, deur ‘n bedrieër onderskep en gemanipuleer is om die bankbesonderhede te verander na die dief se bankbesonderhede, en dat betaling dus verkeerdelik aan die dief gemaak is.
Die vraag ontstaan dan wie se skade is dit? Is dit die verskaffer of diensleweraar wat nou maar moet klaarkom sonder betaling, of is die persoon wat die rekening ontvang het steeds verantwoordelik om die verskaffer of diensleweraar te betaal (al is die dief nou reeds verkeerdelik betaal)?
In Galactic Auto (Pty) Ltd v Andre Venter [2019] ZALMPPHC het die krediteur aan ‘n debiteur ‘n faktuur geheg aan ‘n epos gestuur, en daarna ook die krediteur se bankbesonderhede. In plaas daarvan om die krediteur se bankbesonderhede te ontvang, het die debiteur ‘n epos ontvang van ‘n epos adres wat soortgelyk was, maar nie identies as die krediteur se epos adres nie, met ‘n bankrekeningnommer wat verskil van die krediteur se bankbesonderhede.
Die debiteur maak toe betaling aan die bedrieglike bankrekening, onbewus daarvan dat die nie die krediteur se bankrekening is nie.
Toe die fout later ontdek word eis die debiteur dat betaling in die verkeerde bankrekening beskou moet word as volle en finale vereffening van die faktuur, aangesien, so argumenteer die debiteur, dit die krediteur is wat die bankbesonderhede verskaf het.
Die Hooggeregshof bevind dat die krediteur verplig is om te bewys dat dit die korrekte inligting van die bankrekening aan die debiteur verskaf het.
Sodra die krediteur aan hierdie onus voldoen het verplaas die onus na die debiteur wie moet bewys dat die betaling in die korrekte bankrekening gemaak is soos verskaf deur die krediteur.
In hierdie saak het die Hof gesteun op die uitspraak van Mannesmann Demag (Pty) Ltd v Romatex Ltd and Another [1988] 2 ALL SA 353 (D) waar bevind is dat betaling, al is dit aanvaar deur die krediteur, afhanklik is en slegs finaal is wanneer betaling gehonoreer is, dit wil sê sodra die krediteur die geld ontvang het.
Die Hof in daardie saak het verder bevind dat om die onderskepping van die epos en die bedrieglike manipulasie van die faktuur waar te neem, die debiteur bloot verplig was om die bankbesonderhede van die krediteur met die krediteur te bevestig en te verifieer, alvorens betaling gemaak is. Het die skuldenaar dit gedoen sou die risiko van betaling aan die dief uitgeskakel gewees het.
Wees dus versigtig wanneer u iemand moet betaal. Kyk uit vir veranderinge op fakture en veral PDF-dokumente aangeheg aan eposse wat maklik verander word, bel die krediteur of vind ‘n geskikte manier om die krediteur se bankbesonderhede behoorlik te verifieer, en spaar so ‘n moontlike groot verlies en skade.